Lamsak

My Photo
Name:
Location: Sydney, Australia

Ek woon deesdae in Sydney. Ek het my PhD by die Universiteit van Sydney klaargemaak en nou dwing ek mense om my as doktor aan te spreek. Soms hou ek myself as 'n mediese dokter voor en neem dan deel aan minder ernstige operasies soos byvoorbeeld kornea oorplantings en die uithaal van verstandtande.

Thursday, November 30, 2006

Kyk haar Ape

Na aanleiding van Pienk Zuit se soenlesse wat annerdag bespreek is, moet hierdie module miskien ook vir insluiting in die sillabus oorweeg word.

Sunday, November 26, 2006

Koue Rillings teen my Ruggraat af

Gisteraand het ek vir The Amityville Horror so op my eie van 10pm tot middernag gekyk. Die fliek was crap (omdat niks my meer kan bang maak na The Grudge nie) maar die konsep maak my bang. Veral as daar staan dat dit op 'n ware verhaal gegrond is. Veral dan. Dis hoekom flieks soos The Exorcist en seker The Grudge ook, my koue rillings en hoendervleis gee as ek dit kyk. Monsters wat mense se ingewande uit ruk en koppe wat rol is maar net guts & gore, maar hierdie geeste ding.....

Byvoorbeeld, in Oz is daar iewers 'n huis met 'n lang geskiendenis van spoke en ander onverklaarbare goeters en gebeurtenisse. Die eienaars wat nou daar woon (en die voriges), kan glad nie troeteldiere aanhou sonder dat die goed mal raak en weghardloop nie. Nou vra ek vir jou, wat sien of hoor daai diere wat ons nie kan sien nie? Daar moet tog iets wees. Die kans dat jy tien honde in 'n ry koop wat almal geestelik versteurd is, is redelik skraal... Ek het nou die dag 'n program op Discovery Channel gekyk waar hulle 'n onderhoud gehad het met 'n gesin wat in 'n huis met geeste/spoke gewoon het. Die goed wat hulle vertel het, was skrikwekkend. Krapmerke op jou maag en rug as jy in die oggend wakker word, of merke wat verskyn as jy sommer net in die huis rondloop. Stemme. Voetstappe. Interessant dat die meeste van die mense wat deur hierdie tipe ervarings gaan, gelowig aan die ander kant uitkom. Amper sonder uitsondering....

Glo julle in geeste/spoke/siele wat nie rus het nie en wat rondhang op 'n spesifieke plek? Het julle al 'n spookervaring gehad?

Monday, November 20, 2006

Wyk!

Ek dog daai Sondagaand blues ding was uit my lewe uit. Staan mos op die rand van trou en alles... Lyk my 'n mens moet enkellopend wees om Sondagaand blues te hê, aangesien ek dit vyf jaar laas gehad het. Net leemtes en holtes veroorsaak Sondagaand blues, die ander worries van die lewe kan mens enige dag oor bekommerd wees, maar Sondagaande kan mens lekker dink oor wat nie meer daar is nie (ek skat dit hoef nie noodwendig 'n meisie/ou te wees nie). Snaaks om te dink hoe mense hulself in mekaar se lewens in weef. Interpenetrerende netwerk soos ons in die polimeerwetenskap sê. Dan, ewe skielik, is al daai gemeenskaplike plekke leeg. Net so.

Gelukkig het ek 'n nuwe bron van girls ontdek. Ons tipe meisies. Ons mense. Dominee se mense. Ek stel deesdae my Foxtel (Oz se weergawe van DSTV) in op die Country Music Channel. Ek het altyd gedog die country scene bestaan uit dungaree-draende, banjo-slaende, viool-spelende, fluitende, jillende rednecks sonder tande (of 'n bek vol swart tande) waar die gemiddelde meisie se pa en broer dieselfde man is. Maar nee! Gesonde rock klanke (dit wat hulle speel in elk geval). Gesonde mense wat gesond eet, wat gesonde klanke maak, almal kan ghitaar speel en bulkalwers vang met toue. Ek is seker die gier sal oorwaai voordat ek vir my 'n cowboy-hoed gaan koop. Lekker tunes - probeer dit voor julle my oordeel.

Terug na die onderwerp. Gelukkig is ek 'n slim man wat kan dink oor dinge. As die blues slaan, moet 'n mens maar bereid wees om die regte ding te doen - gaan dink oor hoekom die dinge gebeur het. Die redes. Dan kom mens vinnig agter dat 'n mens geneig is om net die goeie dinge te onthou en dus word hulle gemis. Selfs as ek die beste van my vorige twee girls vat en saamsit in 'n gelukspastei as't ware, kort daar nog so 'n knippie sout, 'n ektra naeltjie en nog so tien minute in die oond. So voertsek blues, ek weet wat ek doen.

Monday, November 13, 2006

PZN

Die titel van hierdie inskrywing sinspeel op die treffergroep van toentertyd met die naam BZN (Band zonder Naam) op wie se deuntjies ek as tjokker male zonder tal (daar doen ek dit weer!)by grootmens braaivleis- en potjiekosaande aan die slaap geraak het. Hierdie is Post Zonder Naam - omdat hierdie inskrywings een van daai lukrake sessies is waar onverwante goeters by my brein uitsypel.

Punt nommer een handel oor die Goue wawielwebspinnekop (Eng. Golden Orb Spider).


Ek het eenkeer later as gewoonlik gaan draf (in die somer) al met my bospaadjie langs. So paar kilos van die huis af was dit toe al feitlik donker, maar nog steeds skemer genoeg om net-net te kan uitmaak wat om jou aangaan. Dis toe ek sien hoe hierdie goed aan die afsak is na my vlak toe aan drade wat aan die binnekante van hulle anusse gekoppel is. Gedurende die dag sit hulle in hul webbe wat so twee meter van die grond af is, maar snags spin hulle bykomstige webbe tot amper teen die grond en slurp dit dan weer in hulle anusse in as die hane kraai. Natuurlik gaan 'n ongesonde vrees vir spinnekoppe nie goed saam met hierdie ervaring nie en dit is ook dan die rede hoekom daardie aand dit tot op my lys van top 20 traumatiese episodes gemaak het. Verbeel jou sommige mense het daardie vermoë gehad. Saans wanneer die res van ons skemerkelkies aan die wegslaan is, ruk hulle vyf ekstra verdiepings vir hulle huise by hulle poepolle uit en dan is die koerantafleweraartjie net betyds om te sien hoe dit baksteen vir baksteen in die poepol teruggepak word. Selfs die posbus wat soos 'n gholfbal lyk.

Ek is bekommerd oor my Afrikaanse taalvaardighede hier in die vreemde. Spesifiek my spelvaardighede. Ek dink dat ek nie meer weet hoe om vermoë, koeël, prieële, vlieër, vlieënier, vlië of finansiële reg te spel nie. Paul sal so teleurgesteld wees. As erkenning van hierdie skandvlek sal ek so veel as moontlike fonetiese spelfoute maak in die volgende paragraaf.

Ek gaan binekort fir jille footoes plaas fan hoe ek die reenboogparkiette foer op mei balkon. Die goet is mak ginoeg om op mei hant te kom sid en die sonneblomsaat fan my palm av ti eed. Oestralië si fools is een deel fan die lant waarfoor ek nooid gadfol sal raak nie. Fir Maeree si ondhalwe sal ek die fools kaal foer. Did is ook moondlik om ti toeds hoe swak mênse deesdaa spel deur woorde in Goeghil in te tik wat firkeert gispel is en dan ti keik hoefeel trevslaa jei krei.

Wednesday, November 08, 2006

Vreugdelys

Hier is 'n lys van dinge wat my ontsaglike hoeveelhede plesier verskaf. Elkeen van die inskrywings op die lys gebeur min genoeg en is skaars genoeg dat ek dit waardeer elke liewe keer as dit gebeur.

1) Om my toilet te Toilet Duck. Diep onder die rand in.
2) Om in 'n belaglike stem te praat as ek 'n vreemde kat raakloop. Ek hou nie op voordat ek hom/haar mak gemaak het nie. Dan vryf ek dit kat se wang en stap tevrede weg.
3) Om vyfuur die oggend weg te trek op pad na 'n vakansie wat ek reeds 'n geruime tyd lank aan die beplan was. Dis lekker om in die donker weg te trek en dan te sien hoe die wêreld rondom jou lig word terwyl die kilometers verby glip.
4) Om 'n kis te dien in tennis.
5) Om te sien mense los comments op my blogsite.
6) Om braaivleis te eet. Ek verwys spesifiek na lamtjoppies en hoender soos ek dit braai. Ek braai ook belaglike lekker snoek, kabeljou en salm.
7) Om my talente te tel.

Ook vreemd hoe persoonlike tydsbesteding verander na die oorgang van nie-enkellopend na enkellopend voltooi is, soos gesien in hierdie lys van waarmee ek myself besig hou gedurende die dag,

1) Kyk sport
2) Doen Xhosa les vir die dag
3) Kyk sport
4) Speel op internet
5) Drink koffie by strand en merk non chalant op hoe parmantige juffrouens in stuitige baaibroekies op die sand rondtrippel.
6) Hiersien my Xhosa les vir die dag.

Ek moet bylas dat ek wag dat my nuwe werksvisa gefinaliseer moet word. Inskrywings 1, 3, 4 en 5 gaan skade ly sodra dit gebeur.

Friday, November 03, 2006

Ek hou daarvan as ek die bodem kan sien.

Aangesien Dorothy haaie gelys het as een van haar supervrese, het ek besluit om vir julle te vertel wat die vier gevaarlikste haaie in die oseane van die aardbol is. So hier is hulle, in volgorde van gevaarlikheid, soos bepaal deur aantal mense wat vermoedelik deur hulle opgevreet is.

1) Opesee-wittiphaai (Oceanic white tip shark). Hierdie haai het verreweg al die meeste mense opgevreet van enige ander haai-spesie. Die rede hiervoor is dat die haai net in die diepsee voorkom en tydens oorloë en seerampe die slagoffers opvreet terwyl hulle hulpeloos ronddryf. Hulle kom nie teen die kus voor nie en mense besef dus nie hoe gevaarlik hierdie haai is nie.



2) Zambezihaai (Bull shark). Ek het eenkeer 'n dokumentêre film gekyk oor 'n idioot wat in water gestaan het wat tot by sy heupe gekom het, met jong Zambezihaaie wat om hom rondswem, terwyl hy vertel dat hierdie haaie maar net verkeerd verstaan word. Terwyl die kamera 'n toneel onder die water verfilm, skeur een van die haaie die ou se hele kuit af en swem daarmee weg. Baie gevaarlike kalant en kan kilometers in vars water riviere opswem.


3) Tierhaai (Tiger shark). Net so gevaarlik (sommiges sê selfs gevaarliker) as die Zambezihaai. Byt die heeltyd surfers dood in Hawaii. Die haai het strepe op sy lyf soos 'n tier...


4) Witdoodshaai (Great white shark, white shark, white pointer). Wat meer hoef ek te sê...?

Ek bid altyd dat ek nooit een van hierdie goed teëkom nie. Nooit nie.

Wednesday, November 01, 2006

Die Tyding

Ek het gister die doodstyding twee keer ontvang.

Die eerste was 'n meisie wat saam met my op skool was. Ek het geen kontak meer met haar gehad nie, maar het presies geweet wie sy is. As iemand my sou gevra het of ek haar ken, sou ek gesê het dat ek haar baie goed ken en dat ons saam op skool was. Gister hoor ek sy is al 'n maand en 'n half gelede oorlede in 'n motorongeluk. Ek het dit nie eens geweet nie al sou ek gesê het dat ek haar baie goed ken... Nie seker wat die les is nie.

Die ander tyding was oor 'n persoon wat in die gebou gewerk het waar ek my MSc en Hons gedoen het. Hy was een van die onbeskofste mense wat ek nog ooit ontmoet het, behalwe op Vrydagmiddae as jy hom alleen raakgeloop het. Dan was hy vriendelik en kon ons oor rugby praat. Hy is die naweek oorlede aan 'n hartaanval (ek was nie verbaas nie aangesien hy altyd ewe ontsteld geraak het oor 'n versoek om nog papier in die fotostaatmasjien te sit as wat hy was oor 'n versoek om dronk mense in die laboratorium toe te laat). Almal gaan hom onthou as 'n onbeskofte mens, want niemand weet van die Vrydagmiddag-amnestie nie. Ek weet wat die les hierso is - werk aan jou legacy (is dit nalatenskap?). Hoe gaan mense jou onthou as jy vandag doodgaan? Vra maar net vir Hansie.