Lamsak

My Photo
Name:
Location: Sydney, Australia

Ek woon deesdae in Sydney. Ek het my PhD by die Universiteit van Sydney klaargemaak en nou dwing ek mense om my as doktor aan te spreek. Soms hou ek myself as 'n mediese dokter voor en neem dan deel aan minder ernstige operasies soos byvoorbeeld kornea oorplantings en die uithaal van verstandtande.

Thursday, December 21, 2006

Geseënd is julle almal


Ek moet erken dat ek skepties was oor die hele blogging-ding. Gesien deur die oë van iemand wat slegs oor matige rekenaarvaardigheid (maw ek weet nie hoe om te programmeer nie)beskik, was ek onder die indruk dat die blogosfeer die speelplek van internet-geeks was. Selfs al was ek nog nooit op iemand se blogwerf nie. Ek het dit in dieselfde asem genoem as mense wat mekaar in chat rooms ontmoet en dan in Thailand gaan trou en dies meer. Maar nee! Ek was verkeerd en niks gee my meer plesier as om dit te erken nie. Ek moet dus hulde bring aan Pienk Zuit en Kwang se vriend Prof wat my hier ingesleep het en sodoende 'n prettige en plesierige nuwe spreekbuis tot my lewe toegevoeg het.

Elke comment op my site is 'n riem onder die hart.

Ek hoop dat julle almal 'n geseënde Kersfees sal hê en dat die Nuwe Jaar net goeie dinge vir julle almal inhou. Ek het 'n paar presente onder die kersboom vir julle ingeskuif, so neem maar een elk en kyk of julle daarvan hou.

Hel ek sou nie omgegee het om nou in Suid-Afrika te wees nie. Maart volgende sal dit twee jaar wees sedert ek my ma en my broer en die res van my familie en vriende gesien het. Gelukkig kuier my pa op die oomblik hierso (sy eerste tog buite die grense van die Republiek)... Ek is lekker gatvol vir troues mis en 30ste verjaarsdae mis en ander groot gebeure waarby mense betrokke is wat vir jou belangrik is. Soos julle kan sien is Krismis die Suid-Afrikaner in die vreemde se bepeinsing- en heimweëkatalis.

Hou lekker vakansie en ry asseblief veilig waar julle ookal heen gaan.

Sunday, December 17, 2006

Verskoning

Ek smeek om vergifnis nadat ek die volgende reekse vergeet het, al is hulle skreeusnaaks...


ALF

The Office


En sommer Extras ook

Thursday, December 14, 2006

Nog Slegte Nuus



Die pa in Everybody Loves Raymond, Peter Boyle, is gister oorlede. Hy was snaaks, maar die ouer broer is die snaaksste. Die Raymond karakter irriteer my geweldig.

My gunsteling sitcoms sluit in

Third Rock from the Sun

Scrubs

Frasier

en laaste, maar nie die minste

Seinfeld

Friday, December 08, 2006

Slegte Nuus eerste of Interessante Nuus eerste?



Ek sal die slegte nuus eerste breek. Die Tasmaniese Duiwel (Eng. Tasmanian Devil) is besig om uit te sterf teen 'n belaglike tempo. Die Tasmaniese Duiwel het bekendheid verwerf danksy die Looney Tunes karakter Tazz. As dit nie vir hom was nie sou niemand seker eens geweet het van die skepsel nie. Daar is 'n aansteeklike, kankeragtige siekte (Devil facial tumour disease) met 'n 100% sterftesyfer wat besig is om 'n pad deur die bevolking oop te kap. Die bevolking het in iets soos tien jaar van 140 000 na 80 000 getuimel... Die aansteeklike kanker vorm gewasse in en om die mond en dit kan so erg word dat hulle oogballe uitspring. Op die ou end is die gewasse so erg dat die dier nie meer kan eet nie en dan van die honger omkom. Al is daar 'n vyfgang maaltyd wat reg voor hom is... Die kanker word oorgedra wanneer die diere mekaar byt (hulle doen dit gereeld), wanneer hulle van dieselfde kos eet en wanneer die paringsdaad hand uitruk. Die situasie is so erg dat twee groepe gesonde diere tans in aanhouding is sodat die spesie se voortbestaan gewaarborg kan word...

Gesonde kalant

Kalant wat binnekort die tydelike met die ewige gaan verwissel

Nou vir die interessante nuus. Dit het eintlik 'n rukkie gelede as plaasgevind en ek wil weet of enige iemand al hoegenaamd so iets beleef het. Dit was iemand se verjaardag en ons was besig om bier te drink en te kyk hoe die Springbokke vir Frankryk pomp - ek sê mos dit was 'n rukkie terug. In die agtergrond is twee meisies (deel van ons groep, een SAner en een Ozzie) besig om mekaar aan te vat in pool. Skielik verval hulle altwee in die gewoonte om die gat waarvoor die ander een aan die mik is, te vloek en obsene vingertekens te wys. Die volgende oomblik doen hulle altwee daai roetine waar jou wysvinger stilstaan voor jou gesig terwyl jou kop heen en weer beweeg terwyl jy die ander een lekker slegsê. Hulle gee mekaar goed lip en toe val die eerste shot. Ja die eerste shot! Die een girl bliksem die ander girl met 'n snoekerstok. En ek praat nou van bliksem. Ek kon dit nie glo nie. Die ander meisie byt ook toe sommer 'n lukrake ou wat die twee uitmekaar probeer kry op sy arm. Ek het nie geweet was om te doen nie, toe spuit ek hulle altwee maar nat met 'n brandslang en stamp hulle in 'n vlak modderbad in.

Ek het in my lewe nog nie so iets gesien nie.

Photobucket - Video and Image Hosting