Lamsak

My Photo
Name:
Location: Sydney, Australia

Ek woon deesdae in Sydney. Ek het my PhD by die Universiteit van Sydney klaargemaak en nou dwing ek mense om my as doktor aan te spreek. Soms hou ek myself as 'n mediese dokter voor en neem dan deel aan minder ernstige operasies soos byvoorbeeld kornea oorplantings en die uithaal van verstandtande.

Wednesday, August 30, 2006

Ek sê vir jou dankie, ek sê vir jou tot siens

Die laaste ding wat ek gister by die werk aangepak het voordat ek huis toe is vir die aand, was my bedankingsbrief. Nie so maklik as wat mens dink nie...

Ek het hom vanoggend vir die MD gaan gee en toe gesels ons sommer lekker vir meer as 'n halfuur oor hoe moeilik dit is vir maatskappye om uitmuntende jong talent in die hande te kry, maar selfs meer belangrik, om hulle te hou.

Nou gaan ek lekker pendel tussen Sydney (hoofkantoor), Newcastle in NSW (een aanleg), Coega in PE (ander aanleg) en Stellenbosch (ons SA prokureurs).

Sal julle later bederf met detail.

Thursday, August 24, 2006

Versoeningsgebaar


As ons aaaalmal net wil saaamwerk wil saaamwerk wil saaamwerk, as ons aaaaalmal net wil saaamwerk, hoe gelukkig sal ons weeeees. (Bold dele word moet beklemtoon en effe uitgerek word as die liedjie gesing word)

Friday, August 18, 2006

Vermaaklikheidsvermaak

Hierdie bloginskrywing handel oor vermaak en Vermaaklikheid. Die bydraes is lukraak en nie logies nie.

Ek het 'n nuwe gunsteling TV program genaamd Family Guy. Dit is moeilik om te beskryf hoe snaaks dit is sonder om te vloek, so ek sal dit maar daar laat. (Ek moet net noem dat ek op 'n klam handdoek sit wanneer ek dit kyk aangesien dit so snaaks is dat ek gereeld beheer oor my blaas verloor.) Kyk dit gerus as julle 'n kans kry.

Nog 'n bietjie vermaak: Ek en een van my SA vriende hierso het nou die dag staaltjies uitgeruil oor ons skooljare in SA en dies meer. Mettertyd gaan draai ons by ons finale jaar kategeseklas. Onthou julle nog dat mens in standerd nege een-een na die pastorie toe moes gaan vir 'n sessie met die dominee voordat mens voor die gemeente aangeneem mag geword het? My vriend vra tydens sy sessie vir die dominee (op 'n baie klein dorpie in die Vrystaat) hoekom die alleswetende oppergesag (NG Kerk destyds) niks teen apartheid gesê het nie. Liewe magtag - hoofouderling word ingeroep, ouers word gekontak, wyk hou noodvergadering, maatjie maak die cut vir die gebedslys van 'n paar buurwyke en hertzoggies moet onmiddelik gebak word vir die kajuitraad wat gehou moet word. Die arme ou was amper nie aangeneem nie en so byna uit die kerk uitgesmyt. Ons praat nou van 1994! Alles oor 'n geldige vragie. Ek aan die ander kant, het vier Bybelversies gememoriseer (want ek het geweet ons dominee gaan hulle vra) en toe vra hy vir my waar ek my teologiese diepte vandaan kry. Ha ha. Ek glo 100%, maar kerke kan darem wragtag sotte van hulself maak.

Daar bestaan 'n dorp met die naam Vermaaklikheid. Daar is drie redes hoekom ek dit weet. (1) Dit is naby aan die dorp waar ek gewoon en skoolgegaan het, (2) Daar was 'n meisie saam met my op skool wat vroeg in haar matriekjaar deur 'n vent bestuif was. Sy was 'n baie parmantige juffrou vol energie en ons het agterdogtig geraak toe sy as hoofdirigent van die blouspan (ek was die ander dirigent) nie met soveel jolyt as gewoonlik te kere gegaan het nie. Sy het maar net met haar hand op haar maag gestaan en siek gelyk. Toe breek die nuus: Sy en watsenaam van die Poskantoor spyker al van standerd vyf af. Skokgolwe! Hulle het in Vermaaklikheid gaan bly, en (3) Ek, my broeder en my twee neefs (waarvan Katswink een is en was) het op 'n staptog van drie dae die ongetemde wildernis ingevaar en weer op Vermaaklikheid met die samelewing kennis gemaak.

Verbeel jou dat jou van Vermaak is en dat jy in die vermaaklikheidsbedryf werk in Vermaaklikheid en een of ander onbevoegde idioot by binnelandse sake moet jou aansoek vir jou nuwe ID dokument hanteer. Hoërgraad oefening.

(Ek het my bes probeer om 'n paar foto's van Vermaaklikheid op te sit, maar Blogger het issues.)

Wednesday, August 09, 2006

Aksie in jou Ingewande

Na aanleiding van die feit dat Die bloedige een 'n parasietspesie in haar vistenk ontdek het (Ek is nog steeds vas oortuig daarvan dat iemand haar vistenk as 'n ablusiegerief gebruik, aangesien Planaria aan die Phylum Platyhelminthes behoort. Die lintwurm behoort aan dieselfde Phylum... Nie dit geweet nie né!), het ek besluit om oor parasiete wat in die menslike liggaam te vinde is, te gesels. Ek baseer die sessie op 'n program wat ek gekyk het wat oor hierdie afstootlike gebeure berig het. Ek gaan in detail ingaan so kyk weg as jy nie van wurms en goeters hou nie.

(A) Manlief en vroulief gaan op 'n lekker wegbreekvakansie iewers in die afgeleë dele van die VSA en besluit om uit die natuur uit te leef (of darem ten minste so nou en dan). Manlief neem die rol van jagter aan en gaan maak lyntjie nat in die meer. Hy trek 'n vissie of twee uit en vroulief berei feesmaal voor. Manlief vertel na die tyd dat hy opgemerk het dat die vis so effe rou was, maar "mense eet mos in elkgeval sushi". So drie weke nadat hulle terug is by die huis, is manlief besig met sy oggendsessie op die porseleinperd toe hy voel iets is nie reg nie. Hy bespeur toe lint se kind wat by sy anus uithang. Hy roep vir vroulief en, siende dat haar behulpsaamheid geen perke ken nie, sy trek soveel as moontlik (op die ou end so 3 meter) van die wurm uit met 'n tang terwyl hy haar help deur sy anus vir haar oop te sper. Kwaliteit tyd is deesdae so moeilik om in te werk in verhoudings met die gevolg dat hierdie tipe sessies ontsettend waardevol raak.

(B) Man en vrou is pas getroud (daar trek Anton Goosen ook) en man beloon vrou met heuningmaan iewers in Suid-Amerika. Daar baljaar hulle lekker in reënwoude en warm water. Hulle keer terug en sy begin weer te werk in haar fisioterapiepraktyk. So paar weke na hulle terugkoms (menige mense het opgemerk dat sy aan die gewig verloor is) is sy besig om 'n pasiënt te behandel toe sy 'n nat sensasie in haar pantie kry. Sy aanvaar toe maar dat dit 'n knertsie urine was wat deur haar verdegingslinies gebars het toe sy 'n laggie vir 'n flou grappie uitgedruk het. Sy maak toe klaar met die pasiënt, gaan badkamer toe, trek haar broek af en daar val nematode/blaaswurm se kind by haar pantie uit. Sy het amper flou geval van die skok. Ek het self hierdie makkers in Soölogie 178 teëgekom en hulle is vieslik. Hulle lyk soos stewige erdwurms en is maklik tot 30cm lank.

(C) Man neem deel aan adventure-race iewers in Asië. 'n Paar MAANDE na sy terugkoms sit hy voor die TV en hy kan nie verstaan wat sy oog so die heeltyd irriteer nie. Uiteindelik stap hy na die badkamer waar hy 'n spieël kan gebruik om die haar (of so het hy gedink) uit sy oog te verwyder. Dis toe hy die dun wurm sien wat besig is om oor sy oogbal te beweeg (maw onder die vel, maar nie in die oogbal nie). As dit nie daarvoor was nie, sou hy nooit geweet het dat hy besmet is met wurms nie!

Ek gaan nie eens begin met die stories van larwes wat uit liggaamholtes gelok moes word met rou spek, boerewors en leë beloftes van emmers vol verteerde kos nie...

Ek skat die onderliggende boodskap hierso is dat nie 'n slegte idee is om net so nou en dan 'n ontwurmingspil te sluk nie. Jy kan deurtrek wees met die wurms en ander parasiete sonder dat jou ontlasting noodwendig soos deurgekookte spaghetti lyk.

Friday, August 04, 2006

Ek is Briesend

Ek het vroëer die week 'n interessante program oor die favelas van Brasilië gekyk. Dit is basies hulle weergawe van 'n plakkerskamp. Die volgende dag pak ek toe 'n stewige Wikipedia-sessie uit om meer te lees en tipies van Wikipedia delf ek dieper en dieper. Van favela na plakkerskamp in Suid-Afrika en daarvandaan na vuurwapenprobleme in Suid-Afrika en toe eindig ek by die plaasmoorde-probleem in ons land. Aan die einde van daai spesifieke Wikipedia-bladsy was daar 'n skakel na 'n eksterne webpage wat gewy word aan plaasmoorde (die crimexposouthafrica webpage ding is glad nie 'n nuwe storie nie, dis net die een wat by verre die beste bemark is). Op daai bladsy is daar statistieke en gruwelike foto's (moenie daarnatoe gaan is sulke dinge jou ontstel nie) van plaasmoorde. Die foto's is geneem deur polisiebeamptes of familielede wat eerste op die toneel afkom het. Eers as jy daai foto's sien verstaan jy wat die sin "die boewe het hom voorgelê en hom in die gesig geskiet" wat mens in die koerantberig lees, regtig beteken. Daar is geen verskil tussen mens en dier tydens hierdie episodes nie - mense word diere en hulle word van kant gemaak soos diere deur diere. Ek dink nie ons begryp hoe geweldadig en gruwelik daai mense doodgemaak word nie. Ek het net so vinnig deur die foto's gescan, maar een het in my kop vasgesteek en dit is die rede hoekom ek hierdie uiting-gee-sessie nodig het. Die foto wys hoe hulle 'n wit outjie opgehang het aan sy nek. Daar is geen bloed op hom nie, maar die arme outjie het nog sy skoolklere aan. Ek kom van 'n klein dorpie af en ek weet hoe die kinders Vrydag by die koshuis opgetel word en dan uitsien om die naweek plaas toe te gaan. Bliksem die ou lyk nes een van my neefs op een van daai ou klasfoto's. Baie van die slagoffers is oud en is nog in hulle pajamas, baie van die slagoffers is arm en kon nie dubbele elektriese heinings bekostig nie. My oom-hulle moes skuif van hulle plaas af omdat hulle bure vermoor is - dit was 'n kwessie van tyd voordat dit hulle beurt was.

Ek lees nou die dag van 'n boer wat by Marble Hall op sy plaas vermoor is. Hy het twee weke voor die aanval by die provinsiale regering gaan kla oor die plaasgeweld. Vier ouens met balaklawas, gewere en koeëlvaste baadjies. WAT DE F%K?!?! G'n wonder die boere dink die regering is in die mix nie. Hoe de hel verdedig jy jouself en jou familie teen mense met koeëlvaste baadjies en masjiengewere?? 1700 (of so iets) mense is al doodgemaak op plase. Hoe groot is 'n gemiddelde plaas? Dan kan jy uitwerk watse deel van Suid-Afrika absoluut skoongemaak is. Ons het nie 'n benul wat daai mense daagliks deurmaak nie.

Ek is die eerste ou wat sal sê dat baie boere vir die onvermydelike soek deur hulle werkers sleg te behandel en te verneder. Die swart volke is trotse nasies wat al klaar verneder word deur die feit dat hulle op plase moet werk, slegte behandeling is soek vir moeilikheid. Ek is besig om 'n redelike goeie boek genaamd A History of South Africa deur Frank Welsh te lees. Ongelooflik hoe die blankes en die swart stamme destyds mekaar om die beurt vermoor het. Dis amper asof niks verander het nie. Daai gewelddadige konfrontasies gebeur vandag nog. Dit was een van die groot redes vir die Groot Trek - en dit is hoekom van die meer konserwatiewe boere parallelle trek met destyds en nou. Ek verstaan wat hulle probeer sê.

Ai tog, ek is verskriklik lief vir Suid-Afrika en ek glo dat dit 'n sukses sal wees. Daar is nog ontsettend baie haat in ons land en solank dit daar is, sal hierdie goed voortgaan. Vir die boer in Limpopo is 'n swart man 'n plaaswerker en iemand wat gewatch moet word anders kom maak hy jou dood. Vir my is 'n swart man enige iets van 'n misdadiger tot iemand wat saam met my 'n PhD verwerf het. Met ander woorde dieselfde persoonlikheidsverspreiding as wat blankes in my oë het. Apartheid het groepe agter gelaat wat mekaar nie ken nie en mekaar nie wil leer ken nie want hulle vertrou mekaar nie. Absolute saadop.

Dankie vir julle aandag.

O ja - moet asseblief nie hierdie verwar met 'n bitch-sessie oor Suid-Afrika nie. Dit is nie wat dit is nie. Hierdie goed ontstel my as mens want ek het familie en vriende op plase en ek kyk na my Ouma en dink aan tannies soos sy met wie hierdie goed gebeur.