Lamsak

My Photo
Name:
Location: Sydney, Australia

Ek woon deesdae in Sydney. Ek het my PhD by die Universiteit van Sydney klaargemaak en nou dwing ek mense om my as doktor aan te spreek. Soms hou ek myself as 'n mediese dokter voor en neem dan deel aan minder ernstige operasies soos byvoorbeeld kornea oorplantings en die uithaal van verstandtande.

Friday, September 29, 2006

Sosiale Saadop (waar was Emsie?)

Van kleintyd af het ek 'n gesonde beheptheid/geid met visse. Ek was gedurig aan die soek vir goeters in rotspoele en ek hou ook van Fisherman's Platters by seekosrestaurante. My mees traumatiese nagmerrie as kind was nadat ek 'n klipvis gestenig het 'n in rotspoel by Sandbaai. Die Pienk Pak sal kan bevestig dat ek 'n Advanced Scuba Diver is en dat ek (en hy) al saam met Skeurtandhaaie by Umkomaas gaan duik het. Dit (die obsessie), in samewerking met die onlangse verkyging van my dertigste jaarring, is besig om op te bou na 'n groot affêre.

Sake is stadig maar maar seker besig om te beweeg na die punt waar ek 'n 250 liter (dis reg ja - 'n kwart van 'n ton) tropiese akwarium gaan aanpak. Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan, aangesien jy doodseker moet wees dat die nuutgeid nie sy glans gaan verloor nie en dat jy nie jouself onder die wanindruk laat beland dat dit dieselfde is as om drie goudvisse in 'n groot bierglas aan te hou nie...NEE MENEER! Dit is 'n selfvoorsienende, selfonderhoudende, spesie-belaaide biosfeer wat 'n oorwinning is vir mense wat diere in onnatuurlike habitatte aan die lewe hou.

Ek sal julle stap vir stap deur die hele proses neem - en die eerste stap was die rampspoedige besoek aan die akwariumsentrum hier naby aan my. Ek was besig om na die verskillende pakette te kyk toe ek besluit om gou 'n paar vrae te vra vir die vent wat agter die toonbank werk. My eerste kennismaking met 'n vis-nerd. 'n Plaas daarvan om op hom te fokus, fokus ek op sy vis-nerdgeid en kom nie agter dat dit ook my eerste kennismaking met die skeelste persoon op die aardbol is nie. (En daarmee bedoel ek dat die ou grappie dat jy hom reg van voor af kan bekruip, wel hier geldig sou gewees het.) Ek wys met my vinger na die pakket waarin ek belangstel en hy lê vorentoe op sy arms om daaroor te praat, maar vir my het dit gelyk asof hy vorentoe lê en na die dak kyk (so asof daar 'n kennisgewing hang of iets). Toe maak ek my voetfout. Ek lê toe vorentoe na hom toe ek draai my kop om sodat ek ook dak toe kyk (ek dog die ou probeer my aandag vestig op iets daarbo) - meanwhile, back at the ranch, kyk die ou my eintlik in my oë en wil hy maar net gesels oor visse. Daar was niks teen die dak nie. Daar was niks wat ek kon sê nie.

Die res van die gesprek was redelik gelaai met spanning van my kant af en ek het my bes probeer om sinvolle brokkies te deponeer. Nou is ek bang dat die ou parasietbelaaide visse aan my gaan verkoop...

Wanneer laas was julle in 'n viswinkel? Loop check bietjie al die funky visse uit.

Thursday, September 28, 2006

Die Kanker wat Vreet

Jammer dat ek so lukraak blog. Ek is nog nie by my nuwe kantoor en 'n permanente rekenaar nie.

Ek skryf oor die moord op Stefan Louw soos na verwys op Maeree en Kwang se sites.

Die woede wat in my opwel as ek sulke dinge lees is onbeskryfbaar. Ek hoop daai fokkers en almal soos hulle kom tot 'n afskuwelike einde. Ek haat die feit dat 'n lewe so goedkoop geraak het in Suid-Afrika. Ek wil hê dat daai etters na die begrafnisse van hulle slagoffers toe moet gaan as deel van hulle straf net voor hulle gehang word. Die misdagigers kom nooit in aanraking met die absolute verwoesting wat hulle agterlaat nie. Dit is ook nie net die slagoffer self nie - dis familie, ouers en vriende ook. Daai lewens is vir altyd aangetas. Ek wil hê hulle moet die hartseer en die magteloosheid sien. Ek wil hê dat hulle by dieselfde tafel as die ma of pa of man of vrou of kind van die slagoffer moet gaan sit en hulle in die oë kyk terwyl hulle vertel hoekom dit nodig was. Ek het een maal 'n storie gelees van 'n vrou wie se pa op hulle plaas vermoor is. Sy het na die tronk toe gegaan waar die moordenaar sy vonnis aan die uitdien was en vir hom gaan vra of haar pa terugbaklei het en hoekom hulle hom so moes doodmaak. Die moordenaar het daai dag in die tronk so byna in sy eie broek geskeit van die skok.

Ek is jammer om dit so kras te stel, maar daai doos het niks om vir die samelewing te bied nie. Ek is bly as ek sien rowers word doodgeskiet deur hulle slagoffers en teikens. So kan hulle nie nog mense doodmaak nie. Ek verstaan dat hulle die produk is van die nalatenskap van apartheid en sosio-ekonomiese omstandighede en al daai snert, maar sê dit as iemand naby aan jou so tot sy einde kom.

Ek het nog nooit so baie gevloek op my blog nie. Ek is ook 'n Christen - nog punte in die rooi kolom vir my. Wanneer gaan die goed tog ophou.

Tuesday, September 26, 2006

Winterslaap

Ek leef nog - tussen werke en tussen rekenaars...

Thursday, September 14, 2006

WerksLewe Hoofstuk II

Jifsum maar die mense hou jou besig so kort voor 'n mens vaarwel roep. Twee baie laat aande wat voorlê. Loop check hierso waar ek van Maandag af my begaafde brein en diverse talente gaan toepas.

Ek is nou nog op 'n power trip oor my bedanking. Skielik groet mense jou vriendeliker of ignoreer jou heeltemaal, hoe dit ookal sy, daar is een of ander reaksie in 'n skakering van groen...

Friday, September 08, 2006

Ontmaskering

Aangesien die Pienk Pak en Prof se pel Kwang dit op hulself geneem het om my te ontmasker, het ek dit gedink dat ek myself maar seker kan voorstel met 'n paar beter kiekies...

Hierso eet ons lekker.



Hier het ek lekker vir almal gebraai nadat 'n kangaroo amper my einde veroorsaak het.


Hier wonder ek.

Hier wonder ek nie meer of ek my PhD gaan klaarkry nie.



Friday, September 01, 2006

Lekker naweek...


As 'n naamlose houtkapper môre my spreekwoordelike boom afkap, gaan hy dertig jaarringe tel.

Ek gaan julle binnekort van my nuwe werk vertel. Dis baie opwindend en ek is verskriklik opgewonde.