My Photo
Name:
Location: Sydney, Australia

Ek woon deesdae in Sydney. Ek het my PhD by die Universiteit van Sydney klaargemaak en nou dwing ek mense om my as doktor aan te spreek. Soms hou ek myself as 'n mediese dokter voor en neem dan deel aan minder ernstige operasies soos byvoorbeeld kornea oorplantings en die uithaal van verstandtande.

Friday, September 29, 2006

Sosiale Saadop (waar was Emsie?)

Van kleintyd af het ek 'n gesonde beheptheid/geid met visse. Ek was gedurig aan die soek vir goeters in rotspoele en ek hou ook van Fisherman's Platters by seekosrestaurante. My mees traumatiese nagmerrie as kind was nadat ek 'n klipvis gestenig het 'n in rotspoel by Sandbaai. Die Pienk Pak sal kan bevestig dat ek 'n Advanced Scuba Diver is en dat ek (en hy) al saam met Skeurtandhaaie by Umkomaas gaan duik het. Dit (die obsessie), in samewerking met die onlangse verkyging van my dertigste jaarring, is besig om op te bou na 'n groot affêre.

Sake is stadig maar maar seker besig om te beweeg na die punt waar ek 'n 250 liter (dis reg ja - 'n kwart van 'n ton) tropiese akwarium gaan aanpak. Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan, aangesien jy doodseker moet wees dat die nuutgeid nie sy glans gaan verloor nie en dat jy nie jouself onder die wanindruk laat beland dat dit dieselfde is as om drie goudvisse in 'n groot bierglas aan te hou nie...NEE MENEER! Dit is 'n selfvoorsienende, selfonderhoudende, spesie-belaaide biosfeer wat 'n oorwinning is vir mense wat diere in onnatuurlike habitatte aan die lewe hou.

Ek sal julle stap vir stap deur die hele proses neem - en die eerste stap was die rampspoedige besoek aan die akwariumsentrum hier naby aan my. Ek was besig om na die verskillende pakette te kyk toe ek besluit om gou 'n paar vrae te vra vir die vent wat agter die toonbank werk. My eerste kennismaking met 'n vis-nerd. 'n Plaas daarvan om op hom te fokus, fokus ek op sy vis-nerdgeid en kom nie agter dat dit ook my eerste kennismaking met die skeelste persoon op die aardbol is nie. (En daarmee bedoel ek dat die ou grappie dat jy hom reg van voor af kan bekruip, wel hier geldig sou gewees het.) Ek wys met my vinger na die pakket waarin ek belangstel en hy lê vorentoe op sy arms om daaroor te praat, maar vir my het dit gelyk asof hy vorentoe lê en na die dak kyk (so asof daar 'n kennisgewing hang of iets). Toe maak ek my voetfout. Ek lê toe vorentoe na hom toe ek draai my kop om sodat ek ook dak toe kyk (ek dog die ou probeer my aandag vestig op iets daarbo) - meanwhile, back at the ranch, kyk die ou my eintlik in my oë en wil hy maar net gesels oor visse. Daar was niks teen die dak nie. Daar was niks wat ek kon sê nie.

Die res van die gesprek was redelik gelaai met spanning van my kant af en ek het my bes probeer om sinvolle brokkies te deponeer. Nou is ek bang dat die ou parasietbelaaide visse aan my gaan verkoop...

Wanneer laas was julle in 'n viswinkel? Loop check bietjie al die funky visse uit.

6 Comments:

Blogger Do Kwang said...

Nou wat gaan jy met jou visse maak as jy SA toe kom?

6:33 PM  
Anonymous Anonymous said...

Ek is 'n semi-professionele visoppasser in my spaar tyd.
As ek met 'n surf vakansie en 'n paar retoervliegtuigkaartjies vergoed word beloof ek om ten minste helfte van hulle lewendig te hou.

6:20 PM  
Blogger Pienk Zuit said...

is daar 'n eggo hier binne?

Minter, wil jy nie my honde kom oppas in Desember nie? Jy sal egter self vir jou vliegkaartjie moet betaal.

5:27 PM  
Blogger Weiers said...

Mnn, miskien moet ek dit ook probeer.

Ek is in beheer van 'n mans koshuis en dit is 'n biosfeer op sy eie. (Ek vermoed die visse sal minder testosteroon hê en meer inteligensie.)

2:52 PM  
Anonymous Anonymous said...

As ek hulle mag spit kan ons miskien daaroor praat.

8:51 PM  
Blogger Lammervanger said...

Jammer oor die drie posts - 'n Blogger ramp van een of ander aard.
Maeree - ongelukkig moes jou comment in die stof byt, maar ek het jou mos destyds al gesê dat geen vis teen 'n lintwurm kan kompeteer nie...en 'n mens kry goed waarmee jy die chloor uit die water kan haal voor jy die visse insit.
Minter - laas toe ek vir jou nege visse gegee het om na om te sien gedurende die vakansie (wat maar net 'n week was) het net drie teruggekom. Seker maar iets te doen gehad met 'n temperatuurskommeling van 20 grade. Dit is wat gebeur as mens die goed op die stoep los en die hond toelaat om water te suip uit die tenk uit.
Weiers - ek was ook al in beheer van 'n manskoshuis en jy is tien teen een reg met jou vergelyking.

As ek terugkom SA toe sal ek of die visse verkwansel of ek sal hulle 'n gratis kaartjie gee vir die supertjoep van nimmereindigende plesier (oftewel die nasionale rioolstelsel) Daar kan hulle Maeree se troeteldiere ontmoet.

8:15 AM  

Post a Comment

<< Home