My Photo
Name:
Location: Sydney, Australia

Ek woon deesdae in Sydney. Ek het my PhD by die Universiteit van Sydney klaargemaak en nou dwing ek mense om my as doktor aan te spreek. Soms hou ek myself as 'n mediese dokter voor en neem dan deel aan minder ernstige operasies soos byvoorbeeld kornea oorplantings en die uithaal van verstandtande.

Thursday, December 21, 2006

Geseënd is julle almal


Ek moet erken dat ek skepties was oor die hele blogging-ding. Gesien deur die oë van iemand wat slegs oor matige rekenaarvaardigheid (maw ek weet nie hoe om te programmeer nie)beskik, was ek onder die indruk dat die blogosfeer die speelplek van internet-geeks was. Selfs al was ek nog nooit op iemand se blogwerf nie. Ek het dit in dieselfde asem genoem as mense wat mekaar in chat rooms ontmoet en dan in Thailand gaan trou en dies meer. Maar nee! Ek was verkeerd en niks gee my meer plesier as om dit te erken nie. Ek moet dus hulde bring aan Pienk Zuit en Kwang se vriend Prof wat my hier ingesleep het en sodoende 'n prettige en plesierige nuwe spreekbuis tot my lewe toegevoeg het.

Elke comment op my site is 'n riem onder die hart.

Ek hoop dat julle almal 'n geseënde Kersfees sal hê en dat die Nuwe Jaar net goeie dinge vir julle almal inhou. Ek het 'n paar presente onder die kersboom vir julle ingeskuif, so neem maar een elk en kyk of julle daarvan hou.

Hel ek sou nie omgegee het om nou in Suid-Afrika te wees nie. Maart volgende sal dit twee jaar wees sedert ek my ma en my broer en die res van my familie en vriende gesien het. Gelukkig kuier my pa op die oomblik hierso (sy eerste tog buite die grense van die Republiek)... Ek is lekker gatvol vir troues mis en 30ste verjaarsdae mis en ander groot gebeure waarby mense betrokke is wat vir jou belangrik is. Soos julle kan sien is Krismis die Suid-Afrikaner in die vreemde se bepeinsing- en heimweëkatalis.

Hou lekker vakansie en ry asseblief veilig waar julle ookal heen gaan.

18 Comments:

Blogger Lammervanger said...

Die geweldsmisdaad is 'n onderwerp wat ek al met ongekende passie hierso gevloek het, so ek is 100% saam met jou op daardie een.

Ek hoop om terug te kom SA toe (regtig) en ek hoop om die Feb 07 fees by te woon ja - sien ek jou daar? Gee sommer nog 'n leidraad asb.

4:32 PM  
Anonymous Anonymous said...

Mooi kerswense en voorspoedige nuwejaar!!

Dankie vir die blog, altyd n plesier om te kom kuier en te lees en te wonder en te comment ensomeer.

Krismis wense
Klagat

5:09 PM  
Blogger maeree said...

hey lammervanger, mag jou tyd ook geseënd wees, gevul met baie liefde en min nostalgie.

6:02 PM  
Blogger Lammervanger said...

Maeree - thanks. My nostalgiebeker is egter besig om oor te loop - onmoontlik om dit te vermy...ek counter dit maar met liefde.

Klagat - dankie vir jou welwense!

6:32 PM  
Blogger Adam said...

Hey Lam. Sterkte daar oor die naweek. Sal aan jou dink.

Dankie ook vir die mooi wense!

Ek word ers oor 3 jaar 30, so jy het baie tyd om te beplan... He-he.

Liefde vir jou.

A.

6:48 PM  
Blogger Lammervanger said...

Dankie Adam - (jy is intussen bygevoeg tot my link-versameling) magtag maar die onderskraging is genoeg om 'n man met ander oë na die wêreld te laat kyk. Ek hoop jou Kersfees is ontsettend aangenaam.

Maeree - ek wou jou nog altyd vertel het. Toe jy die eerste keer op my blog gepost het, het ek gedog jy is 'n ou met die naam Maree (daai ding waar die brein die woord herken en hy kon nie Maeree herken nie...), toe dog ek jy is 'n gay ou aangesien jou blog 'n defnitiewe vroulike touch gehad het en toe gebruik iemand die persoonlike voornaamwoord "sy" of "haar" om na een van jou insette te verwys. Toe maak alles sin...en hier sit ons nou.

7:03 PM  
Blogger Do Kwang said...

Wie trou in Feb' 07?

7:10 PM  
Blogger maeree said...

haha. ek weet nie waar ons sit nie, maar ek is bly.
as jy die hoof van die huis moet glo, is ek elkgeval 'n gay man in 'n vrou se liggaam.

7:15 PM  
Blogger Lammervanger said...

Wil nie name hier op die blog-arena gooi nie, maar die meisie was saam met ons in Standerd 6 en sy is van Ceres af.

7:15 PM  
Blogger Do Kwang said...

Daar was nie meisies van Ceres in ons st.6-klas nie. Is ek redelik seker.

7:22 PM  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

koop maar vir jouself 'n lekker bottel wyn, drink hom stadig uit in een sitting...klink die bottel vir veraf vriende (dis 'n tradisie wat ek in Griekeland geleer het) - dis hoe ek my krismis in 2004 spandeer het, vingeralleen...

geseend, en sien uit na die dop binnekort

cheers

7:24 PM  
Blogger Lammervanger said...

Kwang: Voorletters is D du T.

Voetstoots - ek ken daai op jou eie beskonke raak met 'n bottel (nie noodwendig goeie) rooiwyn! Sien uit daarna om jou te ontmoet ja.

7:31 PM  
Blogger Do Kwang said...

Danelle du Toit, daai oulike rooikop? Sy was 'n fantastiese meisie! (Is sekerlik steeds.)

7:33 PM  
Blogger Lammervanger said...

Dis reg ja - sy is 'n great meisie. Sy is ook hier in Sydney saam met haar aanstaande.

7:36 PM  
Blogger Do Kwang said...

Dra my groete oor (indien sy my onthou).

7:40 PM  
Blogger Lammervanger said...

Natuurlik sal sy!

7:49 PM  
Blogger rondloper said...

Lam, ek sien die nostalgie is groot, maar mag jy steeds 'n wonderlike feesseisoen he^ en alles van die beste vir 2007. Skink maar 'n glasie op SA!

8:50 PM  
Anonymous Anonymous said...

This comment has been removed by a blog administrator.

4:19 PM  

Post a Comment

<< Home