My Photo
Name:
Location: Sydney, Australia

Ek woon deesdae in Sydney. Ek het my PhD by die Universiteit van Sydney klaargemaak en nou dwing ek mense om my as doktor aan te spreek. Soms hou ek myself as 'n mediese dokter voor en neem dan deel aan minder ernstige operasies soos byvoorbeeld kornea oorplantings en die uithaal van verstandtande.

Friday, August 18, 2006

Vermaaklikheidsvermaak

Hierdie bloginskrywing handel oor vermaak en Vermaaklikheid. Die bydraes is lukraak en nie logies nie.

Ek het 'n nuwe gunsteling TV program genaamd Family Guy. Dit is moeilik om te beskryf hoe snaaks dit is sonder om te vloek, so ek sal dit maar daar laat. (Ek moet net noem dat ek op 'n klam handdoek sit wanneer ek dit kyk aangesien dit so snaaks is dat ek gereeld beheer oor my blaas verloor.) Kyk dit gerus as julle 'n kans kry.

Nog 'n bietjie vermaak: Ek en een van my SA vriende hierso het nou die dag staaltjies uitgeruil oor ons skooljare in SA en dies meer. Mettertyd gaan draai ons by ons finale jaar kategeseklas. Onthou julle nog dat mens in standerd nege een-een na die pastorie toe moes gaan vir 'n sessie met die dominee voordat mens voor die gemeente aangeneem mag geword het? My vriend vra tydens sy sessie vir die dominee (op 'n baie klein dorpie in die Vrystaat) hoekom die alleswetende oppergesag (NG Kerk destyds) niks teen apartheid gesê het nie. Liewe magtag - hoofouderling word ingeroep, ouers word gekontak, wyk hou noodvergadering, maatjie maak die cut vir die gebedslys van 'n paar buurwyke en hertzoggies moet onmiddelik gebak word vir die kajuitraad wat gehou moet word. Die arme ou was amper nie aangeneem nie en so byna uit die kerk uitgesmyt. Ons praat nou van 1994! Alles oor 'n geldige vragie. Ek aan die ander kant, het vier Bybelversies gememoriseer (want ek het geweet ons dominee gaan hulle vra) en toe vra hy vir my waar ek my teologiese diepte vandaan kry. Ha ha. Ek glo 100%, maar kerke kan darem wragtag sotte van hulself maak.

Daar bestaan 'n dorp met die naam Vermaaklikheid. Daar is drie redes hoekom ek dit weet. (1) Dit is naby aan die dorp waar ek gewoon en skoolgegaan het, (2) Daar was 'n meisie saam met my op skool wat vroeg in haar matriekjaar deur 'n vent bestuif was. Sy was 'n baie parmantige juffrou vol energie en ons het agterdogtig geraak toe sy as hoofdirigent van die blouspan (ek was die ander dirigent) nie met soveel jolyt as gewoonlik te kere gegaan het nie. Sy het maar net met haar hand op haar maag gestaan en siek gelyk. Toe breek die nuus: Sy en watsenaam van die Poskantoor spyker al van standerd vyf af. Skokgolwe! Hulle het in Vermaaklikheid gaan bly, en (3) Ek, my broeder en my twee neefs (waarvan Katswink een is en was) het op 'n staptog van drie dae die ongetemde wildernis ingevaar en weer op Vermaaklikheid met die samelewing kennis gemaak.

Verbeel jou dat jou van Vermaak is en dat jy in die vermaaklikheidsbedryf werk in Vermaaklikheid en een of ander onbevoegde idioot by binnelandse sake moet jou aansoek vir jou nuwe ID dokument hanteer. Hoërgraad oefening.

(Ek het my bes probeer om 'n paar foto's van Vermaaklikheid op te sit, maar Blogger het issues.)

9 Comments:

Blogger maeree said...

die seuntjie vra vir sy ma of staan en seks hê sonde is. ma weet nie, sy sal vir die diaken vra. diaken weet ook nie, maar sal vir oom ouderling vra. oom ouderling weet ook nie, maar vra vir dominee. dominee vra vir die ring, die ring vir die streeksinode, die streeksinode verwys dit algemene sinode toe.
by die algemene sinode praat hulle heel dag lank oor hierdie kwessie, dwarsdeur die nag. intussen sit seuntjie en sy ma (met handsak op die skoot) buite die vergaderinglokaal angstig op 'n antwoord en wag. toe die son begin opkom, kom dominee uitgestap - stoppelbaard, gekreukelde pak, oë rooi van gebrek aan slaap. "ons het besluit. staan en seks hê móét sonde wees, want dit kan dalk net lei tot dans."

5:08 PM  
Blogger Do Kwang said...

Jaco, vertel vir die mense hoe jy die grootste nerd in die sub B Sondagskoolklas van die NG Kerk Paarl Vallei was en hoe jy die enigste ou in die klas was wat elke week jou Sondagskoolhuiswerk gedoen het.

12:28 AM  
Anonymous Anonymous said...

Ek het baie vriende van Vermaaklikheid gehad ... sommer nog oor ons kleinwereldjie van grootword. In standerd 9 op Kroonstad is ek uitgejaag uit die Bybelklas omdat ek gese het daar is iets soos evolusie en dat mense dalk in die verlede anders gelyk het. Die ergste was dat my pa, wat ook skoolhoof was, my dit geleer het. Die middag toe ek aan tafel kla dat ek uitgejaag is daaroor het hy gese: "Willempie, toemaar, die meneer kan nie anders nie, hy moet so se, want hy gee Bybel." Oor my ander ervarings met die kerk self wil ek liewer nbie blog nie.

11:26 AM  
Blogger Lammervanger said...

Willem, Vermaaklikheid is 'n great plek. Daar is 'n restaurant waar mens net eet wat die eienaar op daai dag gevang het op sy boot. Die plek is gewoonlik weke lank vooruit bespreek deur die stadsjapies.

6:44 AM  
Blogger Lammervanger said...

O ja Kwang. Moenie my hardwerkendheid in die Sondagskool probeer verkleineer nie. Anders gaan ek die storie vertel van hoe oom Ben by die sub B klas ingestap het en jy met jou hol tussen twee banke vasgesit het. Ek het nog al my Sondagskoolboekmerke, maar ek het al my boekmerke verloor wat my sywurms vir my gespin het.

11:00 AM  
Blogger Lammervanger said...

Ek onthou ja - die ongeneesbare maaggriep! Wie is jy?

6:13 AM  
Blogger Lammervanger said...

Toemaar, ek weet nou - welkom!

6:14 AM  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

'n besondere vermaaklike skrywe, inderdaad!

10:39 PM  
Blogger Marissa said...

Sal graag 'n besoek aan Vermaaklikheid wil bring. Dit voel altyd vir my of plekke met mooi of interessante name self ook mooi of interessant moet wees. Dit is seker nie regtig so nie.

9:25 PM  

Post a Comment

<< Home