Na aanleiding van die feit dat
Die bloedige een 'n parasietspesie in haar vistenk ontdek het (Ek is nog steeds vas oortuig daarvan dat iemand haar vistenk as 'n ablusiegerief gebruik, aangesien Planaria aan die Phylum Platyhelminthes behoort. Die lintwurm behoort aan dieselfde Phylum... Nie dit geweet nie né!), het ek besluit om oor parasiete wat in die menslike liggaam te vinde is, te gesels. Ek baseer die sessie op 'n program wat ek gekyk het wat oor hierdie afstootlike gebeure berig het. Ek gaan in detail ingaan so kyk weg as jy nie van wurms en goeters hou nie.
(A) Manlief en vroulief gaan op 'n lekker wegbreekvakansie iewers in die afgeleë dele van die VSA en besluit om uit die natuur uit te leef (of darem ten minste so nou en dan). Manlief neem die rol van jagter aan en gaan maak lyntjie nat in die meer. Hy trek 'n vissie of twee uit en vroulief berei feesmaal voor. Manlief vertel na die tyd dat hy opgemerk het dat die vis so effe rou was, maar "mense eet mos in elkgeval sushi". So drie weke nadat hulle terug is by die huis, is manlief besig met sy oggendsessie op die porseleinperd toe hy voel iets is nie reg nie. Hy bespeur toe lint se kind wat by sy anus uithang. Hy roep vir vroulief en, siende dat haar behulpsaamheid geen perke ken nie, sy trek soveel as moontlik (op die ou end so 3 meter) van die wurm uit met 'n tang terwyl hy haar help deur sy anus vir haar oop te sper. Kwaliteit tyd is deesdae so moeilik om in te werk in verhoudings met die gevolg dat hierdie tipe sessies ontsettend waardevol raak.
(B) Man en vrou is pas getroud (daar trek Anton Goosen ook) en man beloon vrou met heuningmaan iewers in Suid-Amerika. Daar baljaar hulle lekker in reënwoude en warm water. Hulle keer terug en sy begin weer te werk in haar fisioterapiepraktyk. So paar weke na hulle terugkoms (menige mense het opgemerk dat sy aan die gewig verloor is) is sy besig om 'n pasiënt te behandel toe sy 'n nat sensasie in haar pantie kry. Sy aanvaar toe maar dat dit 'n knertsie urine was wat deur haar verdegingslinies gebars het toe sy 'n laggie vir 'n flou grappie uitgedruk het. Sy maak toe klaar met die pasiënt, gaan badkamer toe, trek haar broek af en daar val nematode/blaaswurm se kind by haar pantie uit. Sy het amper flou geval van die skok. Ek het self hierdie makkers in Soölogie 178 teëgekom en hulle is vieslik. Hulle lyk soos stewige erdwurms en is maklik tot 30cm lank.
(C) Man neem deel aan adventure-race iewers in Asië. 'n Paar MAANDE na sy terugkoms sit hy voor die TV en hy kan nie verstaan wat sy oog so die heeltyd irriteer nie. Uiteindelik stap hy na die badkamer waar hy 'n spieël kan gebruik om die haar (of so het hy gedink) uit sy oog te verwyder. Dis toe hy die dun wurm sien wat besig is om oor sy oogbal te beweeg (maw onder die vel, maar nie in die oogbal nie). As dit nie daarvoor was nie, sou hy nooit geweet het dat hy besmet is met wurms nie!
Ek gaan nie eens begin met die stories van larwes wat uit liggaamholtes gelok moes word met rou spek, boerewors en leë beloftes van emmers vol verteerde kos nie...
Ek skat die onderliggende boodskap hierso is dat nie 'n slegte idee is om net so nou en dan 'n ontwurmingspil te sluk nie. Jy kan deurtrek wees met die wurms en ander parasiete sonder dat jou ontlasting noodwendig soos deurgekookte spaghetti lyk.