My Photo
Name:
Location: Sydney, Australia

Ek woon deesdae in Sydney. Ek het my PhD by die Universiteit van Sydney klaargemaak en nou dwing ek mense om my as doktor aan te spreek. Soms hou ek myself as 'n mediese dokter voor en neem dan deel aan minder ernstige operasies soos byvoorbeeld kornea oorplantings en die uithaal van verstandtande.

Thursday, July 20, 2006

Worsteling en nog Skepsels

Ek het nou die aand wakker geskrik in 'n plas koue sweet en terwyl ek toe my klam voorkop droog klad met 'n vuil handdoek, het ek besef dat die paniekaanval veroorsaak was deur die feit dat ek nie die verbindings-s in Afrikaans onder die knie het nie. Die koningkobra ding het seker maar salige rus gaan vind in my onderbewussyn en toe oopgebars soos 'n ryp pitseer. Hoekom het koningkobra nie 'n verbindings-s nie maar gesondheidsleer en aardrykskunde wel? Ek verstaan dat die stert van 'n muis (muisstert) en die stroper wat die Pous gekoop het (Pousstroper) nie nog 'n s kan kry nie... Help my asseblief.

Terwyl julle naslaanwerk doen oor my vraag, stel ek julle bekend aan twee skepsels met wie ek elke dag mee te doen het. Die eerste een is die Eastern Water Dragon (hulle bestaan nie in Suid-Afrika nie, dus skaaf ek nog aan sy Afrikaanse naam - ek het toestemming by Rondloper om enige dierspesie in Afrikaans te doop). Naby ons huis is daar 'n bospaadjie waar ek draf, stap, drafstap, peins, dig en worstel. Tydens my eerste drafsessie het ek hierdie makkers teëgekom waar hulle in die son lê en bak om hulle koudbloedige lywe warm te kry. Op my roete kry ek maklik tot dertig van hulle - ek het eers gedog dat ek per ongeluk in 'n reptielpark ingedraf het. Ek kom toe vinnig agter dat, wanneer hulle gevaar bemerk (soos 'n drawwer byvoorbeeld), hulle eenvoudig begin hardloop - op hulle agterbene - in die rigting waarin hulle koppe wys. Die goed is nie klein nie en as van die koppe in jou rigting wys, hardloop hulle reg op jou af en amper in jou vas. Ek beskou hierdie tipe episodes as een van Die Lewe se pogings om te bepaal of volwasse mense beheer oor hulle liggaamsfunksies kan verloor met die nodige aanmoediging en onder die regte omstandighede.



Dan is daar die Brush-tailed possum. Dit is 'n nagdier wat soos iets lyk wat jy in 'n speelgoedwinkel kan koop. Hulle hardloop op jou dak rond en gil en paar en gaan mal - en dan verdwyn hulle net voor sonsopkoms. Hulle is oral, ek het die eerste keer gedog ek sien 'n kat, maar die volgende oggend was daar een met uitpeulende ingewande wat deur 'n bus vergruis was in die pad voor ons blyplek. Ek het toe besef dat dit nie 'n kat was nie.


6 Comments:

Blogger PienkZuit said...

"Hulle hardloop op jou dak rond en gil en paar en gaan mal - en dan verdwyn hulle net voor sonsopkoms."
Klink soos my eerstejaar toe ek onder Die Hoek gebly het.

2:15 PM  
Blogger Do Kwang said...

Jaco, ek dink nie jy was noodwendig verkeerd oor die verbindings-s nie, want ek weet self nie hoe dit werk nie. Dalk kan jou neef Carel weer by Gerda E gaan kersopsteek en uitvind wat staan in die Afrikaanse Woordelys en Spelreels (my eksemplaar is onlangs gesteel).

5:16 PM  
Blogger maeree said...

1) Waarvoor gebruik die pous sy stroper?
2) "Die Lewe se pogings om te bepaal of volwasse mense beheer oor hulle liggaamsfunksies kan verloor met die nodige aanmoediging en onder die regte omstandighede." Ek wil vra, maar ek gaan nie.
3)Wie steel Afrikaanse Woordelyse en Spelreëls?

5:44 PM  
Blogger PienkZuit said...

Ek gaan raai vir (1) dat die Pous sy stroper gebruik vir die groot oes. (probeer dit bietjie 3 keer vinnig hardop sê)

8:24 PM  
Blogger rondloper said...

Die vraag oor die verbindings-s laat my ook nou wonder. Ek werk deesdae elke dag met Afrikaans, maar kan dit nie verduidelik nie. Ek dink dit gaan aan die einde van die dag oor verstaanbaarheid, en 'n bietjie gevoel. Dis soos om baie dinge in die Engelse taal (volgens prof die taal van die antichris - maar dis nou irrelevant) vir Oosterlinge te verduidelik, daar is darem so baie wat glad nie sin maak nie en jy eintlik vir niemand kan verduidelik nie. Soos dieselfde letters wat anders uitgespreek word. Ons gebruik dit elke dag en besef dit nie, maar probeer dit verduidelik aan mense wat nie die taal ken nie. Ek dink byvoorbeeld aan through en tough. Selfde einde, maar heel verskillende uitspraak. Ek dink, dus, die verbindings-s is maar net daar omdat hy daar is. Nie eintlik verklaarbaar nie. Nie vir my nie.

4:12 AM  
Blogger Lammervanger said...

Maeree - (1) Die Vatikaan betaal 'n salaris wat nie markverwant is nie, dus verdien die Pous 'n ekstra inkomste deur as 'n loonwerker deur die Ukraïene te toer as 'n koringstroper. (2) Die Lewe is kop in een mus met 'n onderneming wat probeer bepaal of daar 'n mark vir doeke vir volwasse mense bestaan. (3) Ek is nie seker nie. Miskien is dit die Ystergarde van die AWB wat besluit het dat geen Afrikaanse handleiding in die hande van meelopers/vrydenkendes mag wees nie. Dit is moeilik om seker te wees.

7:46 AM  

Post a Comment

<< Home