My Photo
Name:
Location: Sydney, Australia

Ek woon deesdae in Sydney. Ek het my PhD by die Universiteit van Sydney klaargemaak en nou dwing ek mense om my as doktor aan te spreek. Soms hou ek myself as 'n mediese dokter voor en neem dan deel aan minder ernstige operasies soos byvoorbeeld kornea oorplantings en die uithaal van verstandtande.

Thursday, January 04, 2007

2007

Teen drie-uur Woensdagoggend toe ek en Voetstoots mekaar weereens belowe dat hierdie bier die laaste een sal wees, het ons talle sinvolle besprekingsessies deurgewerk oor die lewe en alles wat belangrik en onbelangrik is. Voetstoots was die eerste persoon wat ek uitsluitlik deur internetwisselwerking ontmoet het en toe in die regte lewe ontmoet het. Soos ek in my vorige bloginskrywing genoem het - ek was nog altyd oortuig daarvan dat net pedofiele, reeksmoordenaars en soortgelyke wanaangepastes persoonlike ontmoetings deur die internet reël. Weereens was ek verkeerd en ons geselligheid saam was uiters aangenaam.

Dit is wat die Sydney Morning Herald te sê het oor die Nuwe Jaar in Suid-Afrika. My eerste nuwejaarswens is dus dat die misdaadstoestand in Suid-Afrika sal verbeter. Ek praat hier van 'n noemenswaardige verbetering en nie breukdele van persentasiepunte net omdat die syfers met 'n ander statistiese instrument behandel word nie.

My tweede nuwejaarswens is dat ons die Krieketwêreldbeker sal wen. Alhoewel ons in 1999 naby gekom het, was dit grootliks te danke aan Lance Klusener se belaglike goeie vorm. Ons het dit ook nie verloor danksy Gibbs se verbroude vangskoot nie, so hou asseblief op om dit te sê, maar wel omdat ons teen Zimbabwe loop staan en verloor het op 'n krieketveld in Holland waar 'n boom in die buiteveld as bykomstige veldwerker gedien het. Daai verloorstryd het veroorsaak dat ons toe weer teen Australië moes speel in die halfeindstryd. Persoonlik dink ek dat ons in 1996 'n beter kans gestaan het, net om toe deur 'n briljante Brian Lara uit die toernooi uit gebliksem te word.

My derde nuwejaarswens is dat al die verslaggewers en skrywers by my geliefde Afrikaanse publikasies hulle stryd teen belaglike anglisismes, direkte vertalings uit Engels uit en skryfkunsdetails in die algemeen sal voortsit. Ek is 'n groot voorstaander van die idee dat 'n taal moet aanpas om te oorleef en woorde soos bloekom (blue gum) en sikspens (six pence) brei ons woordeskat uit. Hierdie tipe anglisismes verwelkom ek in die neologisme-kraal. Woorde soos eskalerend en provokatief en sinsnedes soos "ons het saam opgegroei" laat braakwalms deur my neusholtes peul. Spelfoute is natuurlik net so belangrik om te vermy, aangesien een letter die hele betekenis van 'n woord of 'n sinsnede kan verander. Neem byvoorbeeld voorval vs voorvel en Ek mis jou vs Ek mis gou (die woord mis se betekenis verander hierso van verlange na tjorts).

Ek dink nog wat my Nuwejaarvoornemens moet wees vir hierdie jaar wat voorlê.

Ek hoop regtig dat 2007 besmet is met goeie dinge vir julle almal.

11 Comments:

Blogger maeree said...

ek sweer die skarminkel wat daai artikel geskryf het is 'n suid-afrikaner.

7:23 PM  
Anonymous Anonymous said...

Daai anglisismes is inderdaad 'n doring in die oog. Jiggie...

12:00 AM  
Blogger Do Kwang said...

Ek dink ook dis goed dat mense nie hulle koppe in die sand druk nie.

12:59 AM  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

ja-nee, dankie vir al daai biere, Lam - ek voel nou (3 dae later) heelwat beter

nou's dit die Engelse krieketspan se beurt dat hulle koppies finaal hang...

groetnis uit 'n sonnige Sydney

V

2:26 PM  
Blogger dorothy said...

my dad always says: may your year ahead be better than the last and worse than the next. (i think there's a more eloquent way of saying that)

5:58 PM  
Blogger arcadia said...

hoop jy het 'n baie opwindende 2007! hoe was jou kerstyd?

3:41 AM  
Blogger Lammervanger said...

Dorothy - I like that one...would be great if that could always be the case...
Arcadia - Dankie. Kersfees was baie genotvol. Ek het al weer myself oortref met 'n 7kg Atlantiese Salm braai.

1:05 PM  
Anonymous Anonymous said...

Het jou 'profile' gelees. En daar dog ek ek is die enigste persoon wat belangstel in seeleeu migrasiepatrone. Woorde ontbreek... die lewe maak weer sin.

4:25 PM  
Anonymous Anonymous said...

Gepraat van freaky mense wat die Internet gebruik om ander mense te ontmoet/kontak: my vriendin het toe op haar eie reggekom met verblyf in Sydney, maar dankie in elk geval.

:)

5:07 PM  
Blogger Do Kwang said...

Gaan jy nou net een keer elke jaar blog?

5:05 AM  
Blogger Lammervanger said...

Carien - dan moet sy my maar email sodra sy dink die eensaamheid gaan haar verswelg en haar tot waansin dryf.
Kwang - moenie op my skreeu as jy gesuip is nie.

9:04 AM  

Post a Comment

<< Home