My Photo
Name:
Location: Sydney, Australia

Ek woon deesdae in Sydney. Ek het my PhD by die Universiteit van Sydney klaargemaak en nou dwing ek mense om my as doktor aan te spreek. Soms hou ek myself as 'n mediese dokter voor en neem dan deel aan minder ernstige operasies soos byvoorbeeld kornea oorplantings en die uithaal van verstandtande.

Wednesday, June 28, 2006

Koudbloedige Nagmerrie (vervolg)

Aangesien daar 'n ooglopende behoefte onder my duisende lesers bestaan vir nog inligting wat sal aansluit by die belaglike-groot-akkedisse-waarvoor-jy-moet-uitkyk tema, het ek besluit om nog 'n bloginskrywing daaraan te wy. Ek belowe dat hierdie my laaste reptielsessie sal wees.

Die Gila-monster het 'n paar stemme gekry, maar aangesien ek gevaarlike goeters bloot volgens grootte en vermoë om vinniger as ek te hardloop klassifiseer, kan hy ongelukkig net 'n eervolle vermelding kry (net soos ek in my eerste Eisteddfod). Hy is wel giftig en forseer gif in sy prooi in deur hom aanhoudend te kou, maar hy word net so 60 cm lank.



Hierdie sessie gaan dus gewy word aan onderskeidelik die tweede en derde grootste akkedisse in die wêreld. Die silwermedalje (goud gaan vanselfsprekend aan Komodo se kind) is ingepalm deur die Watermonitor wat in Asië aangetref word. Wanneer hierdie gedierte in 'n gevaarlike situasie is, hardloop hy in bome op en duik dan af in strome in riviere in om te ontsnap - hy kan vir tot dertig minute sy asem ophou. In afgeleë gebiede word hulle soms betrap waar hulle menslike grafte oopgrawe om by die ontbindende lyke uit te kom...



Die bronsmedalje gaan aan die Perentie van die Australiese Outback. Hy kan selfs klein kangaroo's inhardloop en vang... Die Watermonitor en Perentie is beide so twee meter lank.



So daar het julle dit nou. Die aardbol wemel van hierdie tipe gedrogte.

4 Comments:

Blogger PienkZuit said...

"aangesien ek gevaarlike goeters bloot volgens grootte en vermoë om vinniger as ek te hardloop klassifiseer" - Beteken dit jy's bang vir Bult en Vleis ook?

9:47 PM  
Blogger Lammervanger said...

Nee, want ek is vinniger as hulle.

9:12 AM  
Blogger Do Kwang said...

Ek verskil met die premis van hierdie wedstryd. Dit behoort slegs oop te wees vir reptiele met gespelete tonge soos wat gepas vir koudbloedige satansdrek is. Daai twee het nie gevurkte tonge nie.

1:39 AM  
Blogger Lammervanger said...

Inteendeel, daai twee gedrogte het ordentlike gesplete tonge... Die Perentie is selfs in staat om die hitte wat deur sy prooi uitgestraal te word, te proe. Of so iets.

11:19 AM  

Post a Comment

<< Home