Lamsak

My Photo
Name:
Location: Sydney, Australia

Ek woon deesdae in Sydney. Ek het my PhD by die Universiteit van Sydney klaargemaak en nou dwing ek mense om my as doktor aan te spreek. Soms hou ek myself as 'n mediese dokter voor en neem dan deel aan minder ernstige operasies soos byvoorbeeld kornea oorplantings en die uithaal van verstandtande.

Tuesday, February 27, 2007

Die Boot wat nie Klein was nie


Ek en 'n vriendin wat aan my uitgepimp is deur Carien, wat beteken dat Carien nou ook my vriendin is, het nou die dag na 'n groot boot gaan kyk. Met groot bedoel ek ontsettend groot. So groot dat die grootheid daarvan vir my te groot was. Ek praat natuurlik van die Queen Mary II, wat toevallig saam met die Queen Elizabeth II hier aangekom het. Graag deel ek van die meer noemenswaardige triviahappies met julle.

- Die QM2 is 345m lank. Dis amper 4 rugbyvelde.

- Die QM2 is 33 verdiepings hoog. Dit is so hoog soos 'n gebou met 33 verdiepings.

- Die QM2 het 'n werkersmag van 1253 aanboord.

- Die QM2 kos $800 000 000. Afgerond tot die naaste dollar.

- Die QM2 is 44m langer as wat die Eiffel toring hoog is.

- Die QM2 is 3.5 keer so lank as wat Big Ben hoog is.

- Die swart boot in die boonste prent is die Titanic. Hopelik is Leo daarin sodat hy weer kan vrek.

- Die QM2 is regtig groot.

- Ek het nog nooit QM2 soveel keer getik nie.




Monday, February 19, 2007

Mislikheid


Ek was 100% oortuig daarvan dat hierdie dag nooit sal aanbreek nie, maar dit het nou...

Een van die ouens wat saam met my werk het 'n hoër ontlastingsfrekwensie as ek. Gesonder en meer gereelde buikbewegings. Hy vat leeswerk saam as die porseleinperd sy naam skreeu, want "Die fout (let wel: DIE FOUT) wat mense maak is dat hulle te gou opstaan en nie wag vir die tweede en derde applous nie." Dit is wat hy vir my gesê het toe ek vir hom vra hoekom hy met 'n boek uit die toilet uit te voorskyn gekom het. Die fout sê hy vir my!

Ek het nou geen ander keuse as om my eetgewoontes van drie groot maaltye na ses groot maaltye te verander nie.

Monday, February 12, 2007

Sê gou ietsie vir ons

Ek swerf gereeld rond in die blog-arena en sien dat mense diep dinge kwytraak wat bepeins en bespreek word, terwyl ek my blog meestal volgestop hou met cartoons waarop niemand kommentaar lewer nie, allerlei ligsinnighede, snaaksighede uit die natuur uit, gal braak oor die misdaadsituasie in Suid-Afrika en grusame verhale oor parasiete in die menslike liggaam. (Al hierdie inskrywings geskied wel met 'n tasbare onderliggende intelligensie). So, in 'n poging om my lesers te oortuig dat ek slim is, en na aanleiding van 'n gesprek wat ek die naweek gehad het, moet ons nou ernstig raak. Die volgende vraagstukke moet bepeins word:

Vraag 1: Is kwytraak een woord of twee?

Vraag 2: Kan 'n ateïs teologie gaan swot en 'n goeie dominee word?

My antwoord op Vraag 2 (my antwoord op Vraag 1 moet voor die hand liggend wees) is dat dit wel moontlik is. Heel moontlik om die waarheid te sê. Ek dink dat enige persoon teologie kan gaan studeer en dit sien as 'n interessante kursus met 'n geskiedenis/filosofie tema en al die eksamens sal kan deurkom. Ek dink ook dit sal moontlik wees om met oortuiging te preek en praat oor iets waarin jy nie glo nie. Ek probeer nie sinies wees oor predikante nie, ek wonder regtig net of dit moontlik sal kan wees. Ek weet van my lesers is erkende teoloë en kenners van die teologie en sielkunde en filosofie. Ek sal julle insae waardeer.

Friday, February 09, 2007

Klink soos 'n Movie

Wie hou van stomstreke?

Friday, February 02, 2007

Die Ewige Vrees

Ek het nou die dag op ons stoep gestaan en staar na 'n stok-insek wat doodstil teen die muur gesit het. Ek het nog nooit een teen gesien 'n muur nie. Of teen 'n boekrak nie. Of op 'n tafeltennisblad nie. Of op die been wat oorbly as die familie 'n skaapboud opgeëet het nie.

Nadat ek die bogenoemde 50/50-oomblik ingeneem en verteer het, het ek vorentoe gekyk en gekyk hoe vissies jubelend uit die water spring en bleshoendermannetjies met mekaar baklei oor die enigste wyfie in die dammetjie wat nie ver van ons agterdeur af is nie. Ek was net te dankbaar vir woorde dat ek deel van hierdie skepping kon wees. Dis toe dat die alarm afgaan in my spinnekoprisikominimeringsbeheersentrum. 'n Telegram verskyn in my brein met die woorde "Kyk op". Ek kyk op. En daar sit die etter. Reg bokant my kop teen die deurkosyn. Die grootste Huntsman-spinnekop wat ek nog in Australië gesien het. Dis basies hulle weergawe van die reënspinnekop in Suid-Afrika.

Ewe skielik was die deur waardeur ek sekondes terug rustig gesuiker het met my middagkoffie in my een hand, versper deur 'n ondeurdringbare, vrees-geskepte newel van beton. Gelukkig het ek 'n geel belt in Judo en is ek dus vertroud met die Judo-vooroor-rol terwyl jou oog nooit van die vyand afgehaal word nie. Jy mors ook niks van jou koffie nie. Nadat ek die veiligheid van die huis bereik het, kon Doom die res doen...

Ek kry toe hierdie prentjie en kan aan niks ergers dink nie. Die enigste silwer randjie waaraan ek kan dink is dat ek reeds op die porseleinperd sal sit met my broek om my enkels en dus sal ek nie die skok en vrees hoef te probeer inhou nie.