Lamsak

My Photo
Name:
Location: Sydney, Australia

Ek woon deesdae in Sydney. Ek het my PhD by die Universiteit van Sydney klaargemaak en nou dwing ek mense om my as doktor aan te spreek. Soms hou ek myself as 'n mediese dokter voor en neem dan deel aan minder ernstige operasies soos byvoorbeeld kornea oorplantings en die uithaal van verstandtande.

Friday, July 28, 2006

O moenie huil nie, o moenie treur nie!

Ek is terug! Danksy Die Pienk Pak se rekenaarvaardigheid en sy afstandsgebaseerde hulppakette is my blog nou onontploft. Ek is seker daarvan dat 'n psigopatiese leser my blog aan die brand gesteek het nadat hy/sy besef het dat hy/sy nooit soos ek sal kan wees nie. Ek het vir Magnum PI op die saak, maar vir die wyle moet ek ongelukkig 'n vraag aan julle almal stel (hierdie is slegs die verloop van amptelike prosedures):

Waar was jy van eergister tot vandag en wat het jy gedoen?

Tuesday, July 25, 2006

Peuselhappies vir Bepeinsing

Die naweek se verloorsessie teen die All Blacks (alhoewel dit 'n verbetering na verlede naweek se skandes was) het my laat dink aan 'n staaltjie wat ek graag hier met julle deel. Dit gaan oor die onskuld van 'n kind - net soos in Angela's Ashes... 'n Pel wat saam met my gewerk het en sy broer se kind (wat so 7 jaar oud was ten tyde van die voorval), besluit om gou 'n rugbywedstryd uit te pak op die grasperk voor die huis terwyl halftyd aan die gang is op die TV. My vriend sê hy is die Springbokke en die outjie sê hy is die All Blacks. Aangesien dit 'n regte rugbytoets was, moes die onderskeie volksliedere eers natuurlik gesing word. Die outjie kom toe vinnig agter dat hy nie die Nieu-Seelandse volkslied ken nie, en kap toe "Toemaar Oom, ek vat maar Loof Hom met die Tromme." Die soete onskuld darem.

Ek was gister by die tandarts gewees. As Die Lewe 'n spyskaart van keuses gehad wat jou sou kon toelaat om dinge te kies in pleks daarvan om na die tandarts toe te gaan, sou ek eerder die volgende gekies het: Forseer platpuntskroewedraaier in eie oog in, druk kaal voete onder geroeste grassnyer in, druk koppiespelde onder vingernaels in en gaan speel vang-vang-verlos, druk hekelnaalde onder toonnaels in en gaan oefen dan skepskoppe saam met Naas Botha en hardloop in 'n Pitbull teelplaas rond terwyl jy met lamsbloed besmeer is nadat die onderkant van jou voete met 'n warm strykyster vermink is. Maar soos gewoonlik was dit onnodig en kon die tandarts nie uitgepraat raak oor my mooi gebit nie. Hier sit ek nou op 29 (30 op die 2de September) sonder 'n stopsel, draad of kroon in my smoel. Sy was so vriendelik dat ek amper uitsien na my volgende afspraak.

Thursday, July 20, 2006

Worsteling en nog Skepsels

Ek het nou die aand wakker geskrik in 'n plas koue sweet en terwyl ek toe my klam voorkop droog klad met 'n vuil handdoek, het ek besef dat die paniekaanval veroorsaak was deur die feit dat ek nie die verbindings-s in Afrikaans onder die knie het nie. Die koningkobra ding het seker maar salige rus gaan vind in my onderbewussyn en toe oopgebars soos 'n ryp pitseer. Hoekom het koningkobra nie 'n verbindings-s nie maar gesondheidsleer en aardrykskunde wel? Ek verstaan dat die stert van 'n muis (muisstert) en die stroper wat die Pous gekoop het (Pousstroper) nie nog 'n s kan kry nie... Help my asseblief.

Terwyl julle naslaanwerk doen oor my vraag, stel ek julle bekend aan twee skepsels met wie ek elke dag mee te doen het. Die eerste een is die Eastern Water Dragon (hulle bestaan nie in Suid-Afrika nie, dus skaaf ek nog aan sy Afrikaanse naam - ek het toestemming by Rondloper om enige dierspesie in Afrikaans te doop). Naby ons huis is daar 'n bospaadjie waar ek draf, stap, drafstap, peins, dig en worstel. Tydens my eerste drafsessie het ek hierdie makkers teëgekom waar hulle in die son lê en bak om hulle koudbloedige lywe warm te kry. Op my roete kry ek maklik tot dertig van hulle - ek het eers gedog dat ek per ongeluk in 'n reptielpark ingedraf het. Ek kom toe vinnig agter dat, wanneer hulle gevaar bemerk (soos 'n drawwer byvoorbeeld), hulle eenvoudig begin hardloop - op hulle agterbene - in die rigting waarin hulle koppe wys. Die goed is nie klein nie en as van die koppe in jou rigting wys, hardloop hulle reg op jou af en amper in jou vas. Ek beskou hierdie tipe episodes as een van Die Lewe se pogings om te bepaal of volwasse mense beheer oor hulle liggaamsfunksies kan verloor met die nodige aanmoediging en onder die regte omstandighede.



Dan is daar die Brush-tailed possum. Dit is 'n nagdier wat soos iets lyk wat jy in 'n speelgoedwinkel kan koop. Hulle hardloop op jou dak rond en gil en paar en gaan mal - en dan verdwyn hulle net voor sonsopkoms. Hulle is oral, ek het die eerste keer gedog ek sien 'n kat, maar die volgende oggend was daar een met uitpeulende ingewande wat deur 'n bus vergruis was in die pad voor ons blyplek. Ek het toe besef dat dit nie 'n kat was nie.


Monday, July 17, 2006

Geknelde Land

Aangesien Bok se kind Saterdagaand vermink, geskend, gemartel en toe genadeloos van kant gemaak is, het ek besluit om my lesers te bederf met 'n paar rate vir allerhande skete. Ons voorvaders het immers met kaal voete oor die Drakensberge geklouter, so die pyn van 'n onverwagse rekord-loesing moet in daardie perspektief gesien word... Ek vat eerder 'n Bok-loesing as wat ek 'n runaway kakebeenwa teen die berg af moet inhardloop met my voorlaaier op my rug en 'n assegaai wat by my ribbekas uithang. Dis hierdie tipe omstandighede wat al Die Briels se treffers geïnspireer het.

Dronkenskap (genees van) - Gooi ongemerk 'n bietjie perdesweet in die drank.

Hik - Rook hoendervere.

Hondbyt - Pluk van die hond se hare uit en verbind op bytplek.

Luise - Vryf mayonnaise in die hare en bedek vir 2 uur met stortkappie.

Snork - 'n Paar druppels olyfolie in elke neusgat.

Sooibrand - Drink twee eetlepels asyn. Die probleem sal vir 'n kort rukkie erger voel, maar dan verdwyn.

Sproete - Smeer bok- of donkiemelk aan.

Gewig verloor - Trek wilgerboomtoppe se blare soos tee, drink 'n koppievol drie keer per dag.

Vir mammas wat borsvoed - As jou borste geswel is van die melk en pynlik is, pak koue koolblare oor jou borste, binne jou bra en slaap daarmee. Dit stink maar werk soos 'n bom.

Bednatmaak - Vang 'n streepmuis, slag af en braai hom, gee vir die kind om te eet, moenie vir hom se dis 'n streepmuis nie, hy sal nie meer bednatmaak nie.

Ek probeer myself indink hoe dit lyk as 'n omie met 'n snorkprobleem wakker word terwyl sy vrou besig is om die Extra Virgin Olyfolie in sy neus af te gooi. En die bednatmaak?! My pa het maar net altyd vir my gesê dat die wors snaaks gestop is en dat dit my verbeelding is dat dit anders smaak. Ek weet ook nie hoe om 'n donkie te melk nie.

Friday, July 14, 2006

Diere in en om die Huis


Hier volg my volgende inskrywing oor diere wat julle tien teen een nog nie teëgekom het nie. Ek wyk doelbewus af van die reptieltema (alhoewel die Koningskobra baie aanloklik was Johan) aangesien ek altyd op my hoede is vir tonnelvisie. Ek wil ook aan my lesers die bes moontlike kans bied om daai laaste vraag in hulle volgende Algemene Kennis Olimpiade reg te antwoord en sodoende met die wisseltrofee weg te stap.

Ek moet ook baie versigtig wees vir Anglisismes, want ek het my vorige inskrywing in 'n brief aan Die Burger verander nadat ek gesien het dat die res van die Nasie my ondersteun. Dankie dat julle my weer in myself laat glo het. So in elkgeval, ek moet versigtig wees, anders kry ek nou weer die hele "balk in eie oog voor splinter in ander se oog" hier van ou Paul af. Ek sal julle op hoogte hou of my brief geplaas word of nie.

In elkgeval - ons Dier van die Uur (hoe's daai!) is die Fossa van Madagaskar. Hierdie vleisvreter (wat vir my na 'n verbastering tussen 'n hond, luiperd, otter en bobbejaan lyk) is, in terme van die verhouding van krag tot liggaamsmassa, die mees effektiewe soogdier jagter op die planeet. Hy vang enige iets van visse tot wilde varke, maar sy gunsteling prooi is die lemurs wat hy in die bome gaan vang. So hierdie ding klim in 'n boom op en hardloop dan van boom tot boom met sy sterk bene, skerp naels en lang stert vir balans, tot hy 'n lemur vang. Magtag. Die plaaslike bevolking is ontsettend bang vir die dier. Die enigste ander interessantheid is dat die wyfie se klitoris 'n benerige skede ontwikkel voordat sy begin voortplant en die mannetjie se penis oortrek is met hakies. So paartyd is redelik masochisties.

Wednesday, July 12, 2006

Die Derde Vryheidsoorlog

Ek het gister 'n berig in Die Burger gelees waar André P. Brink vertel hoe ons nie meer optimisties oor Suid-Afrika kan wees nie. Ek het nie 'n probleem met die berig nie, maar in daardie een enkele (daardie is 'n voorbeeld van 'n toutologie dink ek) berig het ek met die volgende te doen gekry: Insident, regstreekse proporsie, eskalerende en apatie... Wat de hel het geword van voorval, direkte eweredigheid, toenemende en afsydigheid?!

Ek en Oom Paul knipoog vir mekaar en wonder of die naaste anglisisme deesdae meer gesofistikeerd (daar trap ek ook in die hondestront) klink as die gepaste Afrikaanse woord...? Ag nee sies kêrels!

Dan begin ek nie eers met die feit dat sommige beriggewers behep (geobsesseerd) is daarmee om Engelse begrippe woord vir woord na Afrikaans te vertaal nie, soos byvoorbeeld "vir die duur van die hofsaak". Watse snert is dit?

Die Afrikaanse taal het 'n woordeskat wat alreeds soveel mooi beskrywende woorde bevat. Die anglisismes wat voorgelê word is net omdat mense al hoe luier raak om te dink. Ek wil die goed nie in my Afrikaanse koerant sien nie.

Eskalerende het my amper laat vomeer (ek bedoel braak/opgooi). Taalstryders val aan!!

As jy nie vir drie ander mense van hierdie blog vertel nie gaan daar binne die volgende sewe ure 'n klavier op jou kop val.

Wednesday, July 05, 2006

Lig aan die Einde van die Tonnel


Ek skat dat 'n mens nie meer mag lag vir iemand wat dink dat die son by sy gat uitskyn nie - dit mag dalk wel die geval wees...

Doctors Remove Lightbulb From Man's Anus

MULTAN, Pakistan (June 29) - Fateh Mohammad, a prison inmate in Pakistan, says he woke up last weekend with a glass lightbulb in his anus.

Wednesday night, doctors brought Mohammad's misery to an end after a one-and-a-half hour operation to remove the object.
"Thanks Allah, now I feel comfort. Today, I had my breakfast. I was just drinking water, nothing else," Mohammad, a grey-beared man in his mid-40s, told Reuters from a hospital bed in the southern central city of Multan.
"We had to take it out intact," said Dr. Farrukh Aftab at Nishtar Hospital. "Had it been broken inside, it would be a very very complicated situation."
Mohammad, who is serving a four-year sentence for making liquor, prohibited for Muslims, said he was shocked when he was first told the cause of his discomfort. He swears he didn't know the bulb was there.
"When I woke up I felt a pain in my lower abdomen, but later in hospital, they told me this," Mohammad said.
"I don't know who did this to me. Police or other prisoners."
The doctor treating Mohammad said he'd never encountered anything like it before, and doubted the felon's story that someone had drugged him and inserted the bulb while he was comatose.

So dink vanaand aan arme Fateh as jy jou bedlampie afsit (en maak seker dat jy op jou rug aan die slaap raak.)

Monday, July 03, 2006

Bloedskande

Hierdie naweek is twee (manlike) van die oorblywende 12 huismaats in die Australiese Big Brother (reeks nommer iets hopeloos te veel) gesmyt omdat die een 'n meisie vasgedruk het en die ander een sy skrotum teen haar gesig gevryf het (hy het sy broek aangehad). Nou word albei aangekla van seksuele aanranding. Dis wat gebeur as mens meer as een reeks van hierdie snert maak.